Kinderdae in Walvisbaai, nou in Namibië, toe Suidwes-Afrika
Ons het iewers vanaf Desember 1955 in Walvis aangekom.
My Ma het 'n Brownie gehad en wou ons altyd afneem. Ek was van dat ek kan onthou met kameras deurmekaar en het dit oral saamgedra, foto's geneem en foto's ontwikkel in my donkerkamer-laborarium-buitekamer. Baie skaars geld is gebruik vir kameras, toerusting, boeke en chemikalieë. Al het ek soms raas gekry omdat die apteekrekening te hoog was, het ek geweet my ouers gee eintlik nie om nie. Dit hou my uit die kwaad, het hulle geglo. Vandag vorm dit ‘n verbasende rekord van ‘n tyd wat verby is.
Hier is sommige geskandeer en met min of geen Photoshop aangebied. Dalk onthou julle van die mense. Dalk verlang julle ook. Oor die algemeen geen orde nie.
Korrigeer my asseblief as ek verkeerde inligting versprei, of as jy iets wil aanlas.
Duine-ry by Duin 7 was toe al gewilde vermaak.
Duin 7 oor 'n naweek voor televisie. Dit was aan die westelike flank, nie die oostelike flank soos deesdae.
Bonnie en ek met ons vangste. Wat soek daai pylstert wyfie en vaalhaai aan die paal?
Ons het vis gevang vir die vale. Pylsterte, sandhaaie, gewone haaie, steenbras en babers in die Walvisbaai lagoon, steenbras en kabeljou by Myl 72. Ons het skandelik met vis gemors. St Joseph's haai met die kaal hande in die vlak water vasgekeer. Kabeljou was volop langs die kus op. Galjoen in hulle gaatjies
Kan vandag nog nie visvang nie – Dit was te maklik om ‘n hoek met aas in die water te kry met positiewe resultate.
Ek skaam my vandag dat ons so argeloos met lewende kon mors en nog trots wees daarop. Ons was deel van daai generasie wat die vis bronne help vernietig het.
Dit was ‘n soort massa moord. Vandag sou dit as brutaal, vermorsing en selfs sadisties beskou kan word. Tant Sarah De Jager kon dit beaam.
Kabeljou - vars van die strand.
Okay, alle vis is geëet, gebak, gebraai, gekerrie, selfs gerook, maar wat van al die by-catch wat sonder seremonie vir plesier vernietig is?
Maar vis was ons lewe en die reuk van vis en vismeel op die noordewind van fabrieke was hemels.
Pienk en groen huisie. |
Die karavaanpark agter. |
Ons kamp pienk huisie en groen rondawel in Hentiesbaai. Oom Bill en Tannie June Finch en kinders is saam. Dink dit was Desember 1961 toe ek vir die eerste keer moes ophou rook. Pa en Ma se aanpor, "jy gaan nou grootskool toe", en hierdie pille help vir craving. Ek hou op rook net om weer in Std 8 weer te begin.
Ons kamp in Hentiesbaai. Broer Kobus, Tannie June Finch en Pa. | Tannies Estie Eigelaar en Martha Eigelaar (Oom Raddie se vrou) en wie?. |
Fotogeniese June Botha (nou Du Toit) en haar Boetie Louis het nooit omgegee om vir my te sit. (Bure in 2de Weg) Watter oulike foto's.
Ek onthou haar naam glad nie, maar my hart word sag en week. Wie was sy? (Iemand dink dalk Ester Gouws)
Ek en broer Nelis speel op die nuwe sand van die dredger waar die nuwe hawe sou gebou word. Hier kom later the 5de Weg ingang na die nuwe hawe.
Die ou hout jetty skuins voor John Newman se huis sou heeltemal verswelg word.
Tannie Wie met hond. | Wie? Ek dink n mooie Spamer. |