Wintervakansie en ons piekel met die two-tone Chev in Gobabis se rigting. Ons hou verby en so halfpad na die grens ry ons bietjie noord en kry oom Roddy Rix se plaas Omitjimere, ‘plek van baie bome en panne’ beteken dit glo en ek glo dit. Net vanjaar is daar nie panne water nie, net baie stof kolle in die droë grasveld.

Die ’56 Chev sleep Pa se homemade treiler gelaai met gebruiklike peace offering van kaste geblikte pilchards en gevriesde vis en 'n gerookte snoek of twee.

Ons geniet die andersheid van die plaas lewe en droë, fris lug. Om in 'n plaasdam te swem terwyl die windpomp bo ons koppe uittoring en kraak.  Te lekker om saam te ry om al die kampe te besoek. Ons inspekteer alma saam pompe, water, krippe, lek blokke, drade. Laai mieliemeel en proviand en dinge op en af by veeposte. Die bedrywighede op 'n karakoel plaas is intens en soms ontstellend.

Ons sien sommer ook hoe 'n veewagter op 'n buitepos vinnig reggesien word met vuis en elmboog vir 'n onduidelike oortreding. Die behandeling akkordeer nie met sy maag nie, en hy moet vinnig net daar langs die bakkie broek losmaak en afvee met 'n klip so groot soos 'n vuis voor hy op die bakkie spring. Vir dae gepeins oor hierdie episode en wat die man dan gedoen het om sulke behandeling te verdien.

 

Natuurlik is daar ook die jag waarvoor  Pa 'n permit moes reël. Stukkie vleis vir die pot is 'n ou tradisie so oud soos die berge en sinoniem met Afrikaner wees.

Ons sien baie wild soos ons soggens en saans na die veld ry. Maar Oom Roddy is 'n rustige jagter en glad nie haastig nie. Herken byna elke trop en inspekteer meer as wil jag. Later kom ek agter hy soek vir 'n spesifiek trop gemsbokke. Hulle steur hulle mos nie aan grensdrade en die plaas is groot. Baie groot.

Een oggend voor sonop gewaar Oom Roddy die trop gemsbokke anderkant die grensdraad. Ek kan hulle nie sien nie, maar hy fluister hulle is daar en die oggend briesie is reg. Uiteindelik sien ek die horings teen die skemerlig. Verbeel ek my. Dis mos te ver?

Sonder 'n woord neem Oom Roddy die geweer uit my pa se hande en lê aan. “Die derde een van links” mompel hy en ek sien dis die langste horings op die horison. Die skoot klap en al die horings is weg. En nou, wonder ek. Wat het gebeur?

My Pa wonder nog hardop wat gebeur het, maar met 'n draadtang maak ons die drade los van twee pale en druk dit plat terwyl die oom oorry en so 100-plus treë verder op die buurman se grond ry na waar die bok lê.

Dis heilige oomblikke. Dis 'n gedempte stemming terwyl die grootmense 'n glasie brandewyn sluk teen die koue en sukses met die jag. Nie opgewonde babbel. Oom Roddy is nie 'n grootbek jagter nie en wonder nie eers waar die skoot was nie. Pa wonder wel hardop en lyk tevrede. Ek sien geen bloed terwyl ons die groot gemsbokbul met gesteun op die bakkie laai.

Die son kom al op as ons sooitjies oor die draad ry, dit regop staan maak en weer vasbind.

Ek sit by die dooie dier se kop. Bewonder die perfekte vorm, horings, kleur patrone met my hande. Ek streel liggies oor die kop. Ek is emosioneel en kan nie sê wat ek voel nie. Meteens sien ek die versteuring in die perfekte hare op die voorkop, en toe ek hare terug trek sien ek die koeël gatjie. Presies daar waar die wit hare na swart hare oorgaan op die voorkop.

En dit is hoe ek my wil om te jag verloor het.

 

gemsbok

 

 

Joomla templates by a4joomla